Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. Mattheus 5:13-16
Jesus se woorde aan Sy dissipels is duidelik: “Julle is die sout van die aarde en julle is die lig van die wêreld.” Dit is meer as net ‘n opdrag; dis ‘n verklaring van ons identiteit. As gelowiges is ons elkeen geroep om ‘n aktiewe rol in die wêreld te speel, as sout en lig. Maar wat beteken dit prakties vir ons alledaagse lewe en hoe kan ons hierdie roeping uitleef?
Rol van sout:
Sout het deur die eeue heen ’n belangrike rol gespeel. In Bybelse tye is sout gebruik om kos te preserveer, wonde skoon te maak en smaak te gee. As gelowiges word ons geroep om dieselfde funksies in die wêreld uit te voer. Dis deel van ons identiteit as die sout van die aarde.
Bewaar: Voor die uitvindsel van yskaste het sout kos gepreserveer om nie vrot te word nie. Net so moet ons ’n bewarende invloed in die samelewing hê deur God se waarheid en waardes te handhaaf. Dit beteken om te staan vir die goeie, selfs wanneer dit moeilik is.
Reinig: Sout is ook gebruik om te ontsmet. Ons moet ’n reinigende invloed hê deur ’n lewe van heiligheid te leef en ander aan te moedig om dieselfde te doen.
Gee smaak: Kos sonder sout, is smakeloos en sleg. Soortgelyk moet ons lewe as gelowige smaak en betekenis bring in ‘n wêreld wat sinneloos voel. Die feit dat God ons sondes vergewe het, is ’n wonderwerk. Kom ons leef inlyn met die wonderwerk deur smaak te gee vir die rondom ons.

Gevaar van sout wat “laf” geword het:
Sout in sy suiwerste vorm kan nie sy eienskappe verloor nie, tensy dit afgewater of besoedel word. Net so verloor ons as gelowiges ons invloed wanneer ons besmet word met sonde of ons waardes laat afwater.
En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Romeine 12:2
Die krag van lig:
Jesus vergelyk ons verder met lig en ons word spesifiek die lig van die wêreld genoem. Weereens is dit deel van ons identiteit as Sy dissipels. Lig het drie basiese, maar kragtige funksies:
- Verlig: Die kleinste liggie kan ‘n donker vertrek ophelder. Ons leefwyse moet God se waarheid en liefde uitstraal aan ‘n samelewing wat met duisternis oortrek is.
- Gee rigting: Soos wat ’n lighuis skepe help om veilig te reis, moet ons ander help om hul pad na Christus te vind.
- Bring hoop: Lig bring warmte en lewe. Dis simbolies van hoop en vreugde. In hierdie donker wêreld is dit ons plig om hoop uit te straal.

Sout en Lig in Aksie
Sout in ‘n houer en ‘n lig onder ‘n maatemmer maak geen verskil nie! Slegs wanneer dit in kontak kom met hulle omgewing, dan het dit ’n effek. Dit beteken dat ons nie in isolasie moet leef nie, maar ook doelbewus ingestel moet wees op ons roeping en identiteit as gelowiges.
Hoe kan ek dit reg kry?
- Wees ’n goeie voorbeeld: Elke gelowige moet ’n hoër lewens standaard handhaaf, nie noodwendig met materiële besittings nie, maar verseker in karakter.
- Dien jou medemens: Maak tyd om jou naaste te dien en bedien, op watter wyse ook al ’n positiewe verskil gaan maak.
- Bly getrou: Getrouheid is ’n eienskap van geestelike volwassenheid. Moenie toegee of opgee aan druk om soos die wêreld te word nie.
Uitdaging: Wees die sout en lig
Jesus se woorde is nie net ‘n beskrywing nie, maar ’n roeping! Maak vandag die keuse om jou omgewing te beïnvloed as die sout van die aarde en die lig van die wêreld.
Deel hierdie artikelk:
Om meer hulpbronne te kry oor hoe jy kan groei, druk op hierdie knoppie en teken op vir een van die aanbiedinge:
Leave a Reply