Het jy al ooit gewonder wie is die HERE, werklik? Hierdie vraag weerklink deur die mens se geskiedenis en vandag is dit nogsteeds van toepassing.
Maar Farao antwoord: Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die HERE nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie. Exodus 5:2
Die belangrikste vraag:
Ons elkeen wonder en vra baie maal vrae soos die volgende:
- Wie is ek?
- Waar kom ek vandaan?
- Hoekom is ek hier?
- Waarom gebeur hierdie goed met my?
Hierdie is alles belangrike vrae, want dit gaan oor ons as mens se bestaan. Maar voordat ons die antwoord kan ontdekp vir hierdie vrae, is daar ‘n belangriker vraag: “Wie is die HERE?” Alles begin by God, want Hy het alles gemaak – insluitend vir jou!
Toe Farao hierdie vraag meer as 3 000 jaar gelede gevra het, was dit met onkunde en arrogansie. Hy was self as ‘n god aanbid deur die Egiptenare, daarom kon hy nie ‘n groter God as homself insien nie. Deur tien verwoestende plae het hy geleer wie is God en dat dit die HERE is.
Niemand soos die HERE nie:
In die tyd waarin ons leef is daar ‘n verskeidenheid van gode wat aanbid word. Die Hindoes glo in honderde gode, terwyl Moslems vir Allah aanbid en erken dat Mohammed sy boodskapper is. Tog is geen van hulle gelyk of dieselfde as die HERE van die Bybel nie.
Daarom is U groot, o Here HERE! Want daar is niemand soos U nie, en daar is geen God buiten U nie. 2 Samuel 7:22
Dis duidelik dat daar net een Ware God is en ons kan Hom uitken aan Sy eienskappe. Kom ons kyk na van die eienskappe van God, soos wat Hy Homself aan Farao bekend gemaak het.
1. God van Waarheid:
Die Egiptiese towenaars kon sommige wonders namaak wat God deur Moses gedoen het, maar teen die derde plaag het hulle self erken: “Dit is die vinger van God.” Die HERE staan uit bo alle leuens en valsheid, want Hy is die waarheid. Hy is die enigste Ware God!
2. Een wat gebed beantwoord:
Dis ironies dat Farao nie weet wie die HERE is nie, maar hy versoek dat Moses tot Hom moet bid elke keer dat die plae kan ophou. Beide Farao en die Egiptiese gode kon die plae nie keer nie en ook nie wegbid nie, maar toe Moses tot die HERE bid, dan het dit gestop, want Hy’s die Een wat gebed beantwoord. Hy hoor vandag nogsteeds wanneer ons tot Hom bid!
3. Die genadige en barmhartige God:
In oordeel bewys die HERE Sy genade, want Hy is tot dit instaat om Egipte dadelik te verwoes. Maar Hy stuur plaag na plaag as ‘n uitnodiging tot bekering.
4. Die Almagtige:
Hoewel die HERE sekere dinge nie kan doen soos om nie te verander of te kan lieg nie, het Hy geen beperking soos ons as mens of enige van die sogenaamde gode nie. Dit maak dat Hy almagtig is en dit wat menslik gesproke “onmoontlik” is, kan doen.
Dit was toevallig die laaste ding wat Farao van God gesien het, toe die Rooisee wat gekloof is weer terugkeer en hom saam met sy manskappe tot niet maak.
Ken Hom persoonlik
Farao maak ‘n tragiese belydenis: “Ek ken die HERE nie…” en so is dit met die meerderheid mense; ons weet van God maar ken Hom eintlik nie. Soos Farao is ons elkeen vervreemd van God, maar ons kan Hom persoonlik ken deur Jesus Christus. Hy het ons sondes op Hom geneem en dit moontlik gemaak dat ons gebroke verhouding met die HERE herstel kan word. Ons kry dit reg deur te glo in Christus en die reddingswerk wat Hy gedoen het aan die kruis.
Jy hoef nie soos Farao deur oordele en pyn te gaan voordat jy ontdek wie is die HERE nie. Soek Hom vandag en jy sal ontdek dat Hy die Ware God is.
Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. Jeremia 29:12-13
Deel hierdie artikelk:
Om meer hulpbronne te kry oor hoe jy kan groei, druk op hierdie knoppie en teken op vir een van die aanbiedinge:
Leave a Reply